Welkom by Martus

Martus se leuse is: Reik op. Reik in. Reik uit. Martus gaan oor verhoudings want die Koninkryk van God gaan oor verhoudings. Uitreike gaan dus vir ons om jou verhouding met God, jouself en ander te verbeter en in die proses te groei.

Martus bediening bied jou baie plek om deel te word van aksies en uitreike, plaaslik en landwyd, waar jy `n verskil kan maak. Vakansietyd toer ons. Ons gaan op fietstoere, hou 'n konserttoer, doen vakansieoord dienswerkkampe, boukampe en sendingkampe. Deur die kwartaal reik ons weekliks meer plaaslik uit na behoeftiges in en om ons gemeenskap.

Vakansie uitreike

Dienswerkkampe

Meer as die helfte van ons vakansie-uitreike is dienswerkkampe. Ons gaan na vakansieoorde en vermaak die kinders daar met poppekas, gesigverf en ander aktiwiteite. Ons bied ook sport en ander aktiwiteite vir tieners en volwassenes aan en help waar ons kan met die oord se vakansieprogram. Hierdie is 'n uitstekende geleentheid om nuwe vriende te maak en geestelik te groei. Die vakansie-oorde wat ons besoek sluit in die Eiland, Klein Kariba, Badplaas en Tshipise.

Kalahari Konserttoer

Die Kalahari konserttoer vind tydens die April vakansie plaas. Die toer stop by verskillende dorpies in die Kalahari en maak ook 'n draai in Botswana. Ons tree op elke dorpie op met koormusiek, 'n toneelstuk en poppekas.

Mangweni

Mangweni is 'n evangelisasie-uitreik in die hoekie tussen Swaziland en Mosambiek. Die daaglikse program is gefokus om mense by God uit te bring deur kinderprogramme, huisbesoeke en dienste. So ervaar elke uitreiker 'n ongekende belewenis van God se genade en besorgdheid oor elke mens.

Macia Boukamp

Die Macia Boukamp gaan elke April en Julie vakansie na Macia in Mosambiek. Hier help ons die sendeling, Willem Nel, om 'n sendingstasie te bou. Die boukamp gaan al die afgelope 20 jaar uit en bou elke keer 'n stukkie by.

Fietstoere

Daar is jaarliks twee fietstoere: Die Traplarritklap fietstoer ry tydens die April-vakansie van Pretoria na Nelspruit. Studente kry kans om hulle avontuurlustige kante uit te leef wanneer ons oorbly in Sabie. Bridge swing", "Kloofing" en "tubing" op die rivier maak deel van die aktiwiteite uit. Die Handevat fietstoer was die afgelope paar jaar tydens Julie van Pretoria na die Natalse kus. Ter wille van groter veiligheid op die pad het ons egter besluit om meer grondpaaie en minder teerpaaie te ry en daarom pak ons van 2009 af die stofpad aan. Die Handevat-Stofpad toer ry grondpad langs van Pretoria na Botswana en oppad besoek ons kinderhuise, ouetehuise, kerke en informele nedersettings waar ons musiek maak, sports het en gesels met die mense. Ons deel ook serpe en traktaatjies langs die pad uit. Op die lang pad word lewenslange vriendskappe gebou en baie geestelik gegroei. Met die stadige pas wat ons ry kan enigiemand deel wees van die avontuur.

Plaaslike uitreike

Kwaggasrand skool vir gestremdes

Hierdie uitreik het 'n sport / kultuur aanslag, waar ons Donderdae tussen 11:30 en 14:00 sport (krieket, netbal en sokker) en musiek afrig en speel by die skool. As jy drama doen is daar 'n groep wat graag deur toneel 'n verskil wil maak. Raak hier betrokke as jy daarvan hou om met kinders te werk.

Jakaranda Kinderhuis

Ons bied op 'n Maandagmiddag kleuterkerk aan by Jakaranda kinderhuis. Ons vertrek 14:30 by die kerk en is om ongeveer 16:00 terug.

Kontak ons

Kontak ons gerus vir enige verdere inligting.

Voorsitter:
Morne Botha - 083 395 2764

Vakansie uitreike:
Freddie Prozesky - 083 386 7924

Plaaslike uitreike:
Starlyn George - 071 674 7849

Projekte:
Adriaan van Tonder - 083 565 3641

Voogpredikant:
Alan Childs - 072 843 1555